Jong gholfspelertjie verras deur wenner se goedhartigheid

As ‘n mens hard genoeg wens, kan ‘n wens dalk net waar word.

Dit is presies wat Vrydagaand tydens die prysuitdeling by die Laerskool Hartenbos se gholfdag by die Mosselbaai-gholfklub gebeur het.

Tydens die gholfdag het Rauch Gertenbach Prokureurs en Seesig Motors vir die derde agtereenvolgende jaar ‘n putt-puttkompetisie aangebied om ekstra geld vir die skool in te samel.

Elkeen wat ‘n gelukshou speel, se naam kom in ‘n trekking vir ‘n pragtige gholfsak ter waarde van meer as R2 000 wat deur Rauch Gertenbach geskenk is.

Vanjaar was daar 39 gholfspelers wat aan die kompetisie deelgeneem het, maar slegs vier kon gelukshoue speel. Onder die vier was die sewerarige graad 1-gholfspelertjie van Hartenbos, John-Henry Botha.

Hy was behoorlik uit sy nate toe hy die res van sy span uitgestof het en die enigste een was wat die gelukshou gespeel het. Die ander drie spelers met gelukshoue was Stephan van Vuuren (Toyota), Anezel Zylstra (Seesig Motors) en Tyron van Vuuren (Friend’s Pub).

Hartenbos se nuwe skoolhoof, Werner van Huyssteen, het die trekking behartig en die afwagting was groot op John-Henry se gesig. So was die groot teleurstelling ook duidelik sigbaar toe Tyron van Vuuren se naam uitgelees word.

En toe doen Tyron iets wat niemand verwag het nie. Hy neem sy prys in ontvangs en stap oor na Johan-Henry en gee vir hom die sak.

Die uitdrukking op die jongman se gesig was kosbaar. Die totale verbasing het plek gemaak vir dankbaarheid en ‘n glimlag so groot en wyd soos Kimberley se gat.

Tyron het terugbeweeg na sy sitplek toe en die volgende oomblik het John-Henry hom agterna gesit en behoorlik gaan dankiesê.

Mededeelsaamheid is ‘n woord wat deesdae al minder gebruik word en daarom was hierdie gebaar beslis een wat nog lank by die Mosselbaai-gholfklub onthou sal word.