Nuwe rookwet lê dampies aan bande

Elke lid van die gemeenskap is geregtig op ‘n omgewing wat nie skadelik vir hul gesondheid is nie.

Die konsepwet op die beheer van tabakprodukte en elektroniese sigarette van 2018 is daarop gemik om strenger maatreëls vir die gebruik van tabak en e-sigarette neer te lê. 

In die lig van die huidige veldtog om mense te oorreed om die gewoonte te laat staan, het Suid-Kaap Forum gaan kyk wat die nuwe wet bepaal.

Die nuwe wet gaan riglyne vir die volgende insluit:

  • Rook in binnenshuise openbare ruimtes;
  • Die vertoon van tabakprodukte by verkooppunte;
  • Die gebruik van elektroniese sigarette (e-sigarette of ‘vaping’);
  • Eenvoudige verpakking; en
  • Beheer van rook naby kinders.

Die verkoop en bemarking van tabakprodukte en e-sigarette word só geraak:

  • Die verpakking en voorkoms van die produkte gaan beheer word;
  • Eenvormige verpakking gaan vereis word;
  • Vereistes vir die vervaardiging en uitvoer van die produkte sal neergelê word;
  • Verkope van die produkte aan kinders jonger as 18 sal verbied word;
  • Die gratis verspreiding van die produkte sal verbied word;
  • Verkope van die produkte in muntoutomate sal verbied word.

Rook is reeds verbode in binnenshuise openbare plekke soos balkonne, patio’s, stoepe, wandelgange en parkeerterreine.

In eetplekke word dit slegs toegelaat in afsonderlike, lugversorgde rookgebiede met ‘n duidelike kennisgewing wat dit as rookplek aandui. Geen kinders onder 18 mag hier rook nie.

Indien die wet oortree word, sal die restauranteienaar en die roker beboet word.

Jy mag ook nie in die teenwoordigheid van kinders of ander passasiers in jou motor rook nie.

Dis jou reg om te kla as iemand wederregtelik in jou teenwoordigheid rook.

Kontak die Garden Route-gesondheidsafdeling by 028 713 2438 indien die wet in die area oortree word.

Facebook
Twitter

Source: Mosselbay Advertiser