Opwindende geleentheid vir skrywers, digters, kreatiewes

Die Suid-Kaap Skrywersgilde kondig aan dat die ATKV Skryfskool van die Noordwes Universiteit ingestem het om ‘n kursus in kreatiwiteit vir skrywers en digters plaaslik aan te bied.

Tydens hierdie kursus sal deelnemers aan die hand van ‘n groot verskeidenheid voorbeelde en aktiwiteite eerstehands kennis maak met belangrike beginsels van kreatiwiteit en hoe om self eie kreatiewe vermoëns te ontgin.

Twee deurwinterde aanbieders kom Mosselbaai toe vir die kursus.

Franci Greyling is al vir meer as twee dekades betrokke by die aanbieding van kreatiwiteitswerksessies gekombineer met skeppende skryfwerk.

Bernard Odendaal is sedert 2012 die direkteur van die ATKV Skryfskool van die Noordwes-Universiteit (Potchefstroomkampus) en ‘n gepubliseerde digter en rubriekskrywer.

Die kursus sluit ‘n voldagprogram in met middagete, asook kursusmateriaal ingesluit.

Dit word aangebied by die Santos Treinresaurant se konferensielokaal op 5 Mei.

Gegewe die intense aard van die kursus word slegs 30 kursusgangers toegelaat.

Die koste is R400 per persoon.

Getroude pare ontvang 10% afslag en daar is ook vyf beurse beskikbaar vir jong skrywers/digters, onderhewig aan die volgende voorwaardes:

  • een beurs elk vir ‘n inwoner van Mosselbaai, George en Oudtshoorn. Twee beurse vir inwoners van die groter Suid-Kaap gebied.
  • die beurshouers moet tussen 17 en 25 jaar oud wees en die volgende inligting vir Merinda voor 19 Maart per e-pos aanstuur: volle name, ouderdom, woonadres, kontak besonderhede en ‘n skryfstuk van 350 woorde. Die aansoeke sal anoniem en onafhanklik evalueer word.

Kontak Merinda Kruger vir navrae, besprekings en betalings by: 083 503 5430 of by merindakruger@gmail.com