Robinsonpasfees om die draai

Tyd staan nie stil nie en wag beslis ook vir niemand nie, daarom is dit tyd om seker te maak dat jy nie die eerste Robinsonpasfees misloop nie. 

Teken 1 Junie vroegtydig op die kalender aan, want dié fees waaroor die Ruiterbos-gemeenskap behoorlik in rep en roer is, is om die draai.

Die fees het ten doel om die 150ste bestaansjaar van die Robinsonpas te vier. Hierdie fees is ‘n familiefees, waar daar vermaak vir oud en jonk en alles tussenin ook sal wees. ‘n Groot verskeidenheid vermaak kan verwag word, insluitend die Donkiekar-boereorkes, Sam & Calla en Fynbos wat deel uitmaak van die kunstenaars wat sal optree.

“Ons het stalletjies, ‘n kaas- en wyntuin, wynproe, boeresport, pretdraf – net te veel om op te noem,” berig Louise Nel.

Een van die feeshoogtepunte, aldus Nel, is ‘n besoek van “geriatriese glanspersoon”, Aunt Ethel. Dié hupse tante, immer in haar ligperstruitjie met haar geblomde sak oor die arm, is gereeld te siene by al wat ‘n dorpsfees is. Sy glo daaraan dat “‘n groef en ‘n graf net verskil in diepte”, en daarom mis sy ‘n fees vir geen geld ter wêreld nie. Aunt Ethel is alte gretig om geselsies aan te knoop en nuwe mense te ontmoet tydens hierdie geskiedkundige fees.

Die avontuurlustiges kan die oggend van die fees gereed staan om in te skryf en deel te neem aan die pretdraf. “Stappers en drawwers kan vanaf 07:00 kom aanmeld.” Inskrywingsgeld is R20 per persoon. Die beplande roete wat gehardloop en gestap word, loop langs die oorspronklike grondpad wat bekend staan as die Ruiterboschpad. Die wegspringtyd is 08:00. Die eerste 100 deelnemers oor die wenstreep kan uitsien daarna om ‘n spesiale medalje ter viering van die 150ste bestaansjaar van die pas te ontvang.