Bekende skrywer besoek Groot-Brakrivier

GROOT-BRAKRIVIER NUUS – Christine Barkhuizen le Roux, wat bekendheid verwerf het met haar debuutroman, Padmaker, wat in 2010 verskyn het, besoek Groot-Brakrivier op Maandag, 14 Maart op uitnodiging van die plaaslike leeskring.

Dié roman is deur Leserskringlede aangewys as een van die beste 100 boeke sedert die ontstaan van Leserskring. Dit is ook op RSG voorgelees in 2011.
Christine het reeds in 2000 as digter gedebuteer met haar bundel, dimensie, wat gunstig ontvang is deur lesers en kritici. Dit is opgevolg deur die bundel roset, wat reeds drie herdrukke beleef het en ook in Nederlands vertaal is.
Haar derde en jongste digbundel, skynskadu, verskyn in Mei 2015. Sy gaan ‘n bekendstelling van hierdie bundel lewer by die Woordfees op Stellenbosch en dit is dan die werk wat sy in besonder by die geleentheid op Groot-Brakrivier sal bespreek.
Sy sal egter ook na ander aspekte van haar skryfwerk verwys en veral na haar vertaling van die Nederlandse roman, De Buitenkant van Meneer Jules deur Diane Broeckhoven.

 

Die byeenkoms begin om 10:00 by Black Vanilla (oorkant die dorpsbiblioteek) in Groot-Brakrivier. Die koste beloop R40 en sluit tee in.
Bepreek by Marie 082 376 6503 of Etty 083 501 0845.
christineleroux