“GIVE LOVE, NOT MONEY”
LAURINDA SMIT

Na aanleiding van ’n artikel “Should I give or not?” deur Jonathan Gelderbloem, Youth for Christ Kidstop in die Oktober-uitgawe van The Post, is die “Give love, not money”-inisiatief in November2021 in Groot-Brakrivier begin. In samewerking met die besigheidsektor, Suiderkruis Sekuriteit, gemeenskapskerke en die plaaslike Raadslede sal dit kinders wat uit die gemeenskap van Wolwedans en Greenhaven na besighede loop om te bedel proaktief hanteer.

Volgens Lodi Hechter, die inisieerder van die projek, is hierdie opvoedingstaak nie net op die straatkinders gerig nie, maar sluit die breë publiek in. Individue voel skuldig wanneer kinders hul konfronteer met versoeke vir geld om kos te koop. As jy hieraan toegee, beloon jy nie net die kind vir sy gedrag nie, maar moedig hom ook aan om te bedel. As skenker dra jy die boodskap oor dat dit aanvaarbaar is om te bedel wat weer meer kinders strate toe lok. Met die “Give love, not money”-projek kan jy ’n plakker koop teen R100 wat jy op jou motorruit plak om aante dui dat jy reeds geld gegee het. Hierdie gelde sal deur maatskaplike dienswerkers, kerk- en gemeenskapsleiers bestuur word om projekte te inisieer wat die kinders voed en met opvoedkundige projekte besig hou.

Suiderkruis Sekuriteit het hul dienste aangebied in geval van probleemsituasies. Skakel 044 620 2567sodat die beheerkamer ’n voertuig kan uitstuur indien een beskikbaar is – alarms en paniekseine van hul kliënte sal voorkeur kry.

Louis Olivier, (Hoofbestuurder) van Suiderkruis Sekuriteit, het die noodsaaklikheid van verantwoordbaarheid benadruk. Alhoewel ons leef in ’n omgewing wat “relatief veilig” is, is daar ’n duidelike toename in misdaad weens toenemende werkloosheid en die gebrek aan vervolging van misdadigers. Hy het verder versoek dat inwoners nie persone se gedrag versterk deur mense wat op straathoeke staan, op te laai en werk te gee nie. Vroeg in Februarie 2022 sal daar in Groot-Brakrivier ’n opslaankantoor, in oorleg met die Mosselbaai Munisipaliteit en die Raadslede, op Munisipale grond opgerig word. Persone wat werk soek, kan daar aanmeld en deur lede van die publiek opgelaai word. Die gemeenskap word dringend versoek om nie langer geld te gee of persone wat ronddrentel se gedrag te versterk nie. Op hierdie wyse dra jy by tot die probleem en nie die oplossing nie.

Koop jou “Give love, not money”-kontant plakker by jou plaaslike besighede of Suiderkruis Sekuriteit (Anna Smith) en ondersteun ’n projek wat werklik ’n verskil kan maak om ons omgewing te beveilig en jou sal vervul met die gemoedsrus dat jy ’n verskil in iemand se lewe sal maak.

 

Address & Contact

Our Address

45 Longstreet Grootbrak Rivier

GPS

-34.0473519, 22.215171