ONTMOET JONKERSBERG SE MENSE

Al ooit gewonder wat by Jonkersberg se bosboustasie aangaan? Die Post het besoek daar afgelê, juis omdat dit ‘n gemeenskap met ‘n ryk geskiedenis is en noue bande met Groot Brak het. Hierdie soms vergete gemeenskap het karaktervolle mense en Maureen Saayman was so gaaf om ons rond te neem om van hulle te ontmoet.

Eers was Tant Anna en haar dogter Maria skugter om te praat, maar na mooipraat het ons toe op hierdie juweeltjies afgekom. Tant Anna Marnewil is die derde oudste op die bosboustasie. Sy en haar oorlede man Saul, het in 1970 hier kom woon, aanvanklik eers in ‘n houthuis en in 1975 in ‘n baksteenhuis. Op die ouderdom van 73 bak sy nog brood en is sy die bobaaskok van viskoekies, mielies-en bonesop en klein koekies.

Sy het haar eie kook kamer buite, wat voorheen meer gebruik is toe hulle nog nie elektrisiteit gehad het nie. Sy het vier varke en haar dogter Maria bedryf een van die twee huiswinkeltjies op die stasie. Reg langs Tant Anna-hulle is Abraham Keiser se landerye. Die grond is vrugbaar hier!! Tant Anna onthou nog die goeie ou dae van danse in die saal, wat reeds in 1952 gebou is en Martha Geertse se man, Oompie, wat met sy bakkie van plaas tot plaas gery het en konserte gehou het met een van die treffers “Hier sit die manne in die Royal Hotel”. Die inwoners het hul eie gemmerbier, pynappelbier en wyn met byekorwe gemaak.

Kersfees het kore kersliedere gesing en vrouens het aktief naaldwerk gedoen. Tans woon daar sowat 115 mense op die bosboustasie, waarvan slegs agt werkers nog by MTO (Mountain-to- Ocean) -bosboustasie self werksaam is. Die MTO gee beurse vir die kinders van werkers vir verdere opleiding. Ander inwoners werk op plase van Van Greunen, die teeplaas, Van Staden Boerdery, Reuben Barnard, die neute en bloubessie-plase. Die huise behoort aan MTO en as jy nie werksaam by die bosboustasie self is nie, moet jy maandeliks elektrisiteit by die kantoor gaan betaal. Voorheen moes jy die huis huur vir R50 per maand, maar dit is nou gratis en is dit die inwoner se plig om die huis instand te hou. In Desember 2019, sluit die bosboustasie en is dit nog nie duidelik hoe dinge verder daar uitsien nie.

Van die ander inwoners wie ons kortliks ontmoet het is Henry Muller en sy vrou, Dina-Walie. Hulle woon al sedert 1971 op Jonkersberg. As SAFCOL werker was hy ondermeer verantwoordelik vir die plant en snoei van boompies en die maak van brandbane. In 2004 het hy afgetree en hou homself nou besig met ses skape, tien hoenders en allerlei ander plantgoed. Hoewel hy nie lekker kan onthou hoe lank hy en Walie getroud is nie, het hy darem nog iewers die bewysstuk. Fred Treurnicht is ‘n man met vele talente. Buiten dat hy ‘n pragtige groentetuin aan die gang hou, maak en verkoop hy besems vir R20 stuk. Nodeloos om te sê, ons is daar weg met elkeen ‘n werfbesem onder die arm.

Daar is al vier geslagte Saayman’s woonagtig te Jonkersberg, die 78- jarige Margaret, Maureen haar dogter, Cindy haar kleindogter en Baba Jacques haar agterkleinkind. Jonkersberg het ‘n klein kleuterskooltjie en wag nog op die aanstelling van ‘n onderwyseres. Die leerders gaan skool by Diepkloof Laerskool en Groot Brak Sekondêre Skool en word met Stevens Transport vervoer. Toe ons hiervandaan wegry kom ek tot die gevolgtrekking – “this is as good as it gets”. Jonkersberg met sy unieke mense, pragtige natuur, vrugbare grond en vele talente, wat net wag om verder ontgin te word. Dankie vir die lekker kuier by julle!