DIE LAND VAN MELK EN HEUNING

Die lewenspendulum is besig om ritmies terug te swaai na ’n plattelandse seedorp. Geen rye nie, maklike parkering voor jou gunstelingwinkel, eetplek-eienaars wat bekendes weer hartlik welkom heet en bedien. Die wassery se bondels swart sakke staan nie meer by die deur nie, ’n motorrit na die groter inkoopsentrums is nie meer stop, ry, weer stop, robot, wag, ry nie. Die talle voetspore op die strand het verdwyn en die seemeeue en tobies begin gewoond raak daaraan dat minder aalmoese uitgedeel word. Skep-, pluk- en parstyd is verby.

Ek is opnuut dankbaar dat ek reeds vroeg in my onkunde en voortvarendheid die besluit geneem het om by die see te gaan bly. Dit is 21 jaar later, maar my hart gaan steeds uit na diesulkes wat nie die voorreg het om by die see te bly nie.

2022 is hier. Elkeen staan voor ’n braak stukkie landgoed, ons word dieselfde ure, minute en sekondes in die dag geskenk. Wat gaan jy vanjaar plant en saai in jou gemeenskapsakkers? Sal dit na waarde geskat en geweeg kan word, nie op die skaal van ander nie, maar op jou lewenskaal? Kuiergaste kom en vertel ons by herhaling hoeveel ons het om voor dankbaar te wees – hier gaan dinge goed, dit is die land van melk en heuning, alles werk en daar is dienslewering.

Oorweeg dit om in hierdie jaar elke dag só te leef en insette te lewer, hoe klein ook al, dat dit waarde tot jou gemeenskap sal toevoeg. Net dan sal die melk en heuning nooit minder word nie en meer mense na liggaam en siel gevoed kan word.